Khutse Maart 2018

Sondagoggend 18 Maart 2018 vertrek ons uit Johannesburg en ons bosvriende Hennie en Ada uit Pretoria vir 'n weeklange besoek aan Khutse Nasional Park in die suide van Botswana.  Ons ontmoet oudergewoonte, in daardie rigting, by die Engen by Swartruggens en ry van daar af saam verder.  By die Skilpadsnek grenspos is die lys van kameratoerusting hierdie keer nie 'n probleem nie (ons bly doodstil) en ons is vinnig deur.  Ons slaap die eerste nag by Mokolodi Wildreservaat, so 9 km voor Gaberone. Sien die eerste twee foto's.  Ons kom vroeg die namiddag daar en kuier heerlik onder die bome, stort lekker met warm water uit die donkie waarin die manne vuurgemaak het.  Mens moet net voorbereid wees met muskietgoed!  Ons kry amper die hele nag swaar reën, maar kon darem die volgende oggend, sonder enige skade, maklik opslaan en aanry Khutse toe.

Ons eerste kampplek in die Khutse reservaat is by Khutse kampplek, want dis naby 'n klein waterpannetjie wat nogal heelwat diere lok.  Sien die 3de foto - 'n lekker groot genoeg staanplek vir twee groepe.  Ons is nogal verras deur twee groot groepe kampeerders op die naaste twee kampplekke aan ons.  Saans het dit nogal jolig geraak, maar dit was darem nog aanvaarbaar.  Die heen en weer lopery tussen die twee kampplekke was nogal steurend.  Ons bly drie nagte by Khutse kampplek no 5 en daarna drie nagte by Molose no 3.

In vergelyking met ons besoek aan Khutse in 2006 waartydens ons heelwat katte gesien het, sien ons geen katte tydens ons besoek in 2015 en ook nie hierdie keer nie. Dis ook asof die groot troppe diere die wyk geneem het en ons neem meestal enkeldiere of klein groepies diere af.  Daar was gelukkig genoeg voëls om ons mee besig te hou.

Waarom dan nog Khutse besoek as dit klink asof wildkyk nie meer mens se eerste prioriteit kan wees nie?  As mens net 'n week tyd het en nie te ver wil ry nie, is die amper 600 km tot in Khutse glad nie ver om te ry in een dag nie en ten spyte van die afwesigheid van katte en op hierdie stadium, ook groter troppe diere, is dit steeds 'n ongelloflike omgewing om te ervaar as die stilte van die natuur en die afgesonderheid van die plek jou bekoor.  Dis werklik 'n plek om te rus.

Ons het Sondagoggend 25 Maart vanaf Molose uit Khutse vertrek en was 8 ure later veilig by die huis.