Central Kalahari Jun '14

Ons is van 30 Mei tot 9 Junie 2014 Sentraal Kalahari toe saam met Conrad en Annemarie Wiehahn en ook Johan en Christa Hattingh.

Die eerste aand het ons mekaar met 4x4's en waens by Anaboom ontmoet en daar oorgeslaap.  Die volgende oggend is ons deur Stockpoort grenspos met die doel om tot by Matswerehek te vorder en dan daar te vra vir slaapplek, want ons was een nag te vroeg.  Ons is ingelaat en beduie na een of ander kampplek nie te ver van die Matswerehek af nie waar ons ons eie kampplek gemaak het om weg te kom van al die onderbroekgras!

Die volgende oggend het ons vroeg kamp opgeslaan en Passarge 1 toe vertrek waar ons vier nagte gestaan het.  Passarge se kamp is vroeër verskuif en nr 1 is nou reg op die duin tussen twee reuse skadubome, so dit maak vir volskadu kampery vir almal in die groep. Die wild in daardie omgewing was skaars en ons het uitgesien na Deception.  Ons het ook vier nagte by Kori 2 gestaan.  Daar was ook nie vreeslik groot wild nie en ons het slegs een keer leeus gesien.  Die Wiehahns en Hattinghs was meer gelukkig om by meer as een geleentheid leeus te kry nadat hulle baie ver van die kamp gaan draai het in die rigting van en heeltemal verby Deception lodge - 'n dag se ry.

Dit was een van ons meer koue trips en saans moes ons maar na aan die vuur sit om 'n bietjie warm te word!  Die laaste aand het ons almal saam by Khama Rhino Lodge deurgebring saam met die plaaslike renoster wat deur die kampplekke wei.  Soms was hy darem net bietjie te naby!

'n Kort, maar lekker trippie saam met goeie geselskap en baie lekker kos!  Hieronder is 'n paar van ons foto's.