Moremi Chobe Savuti '13

Hierdie was ons eerste alleentrip met die Discovery 3 in Moremi en Savuti.  Ons is die Vrydagmiddag van die huis af en kon nie die eeste nag op Anaboom slaap nie en het daarom by Yvette en Flip Malan op hul plaas naby Groblersbrug oornag.

Die eerste drie nagte het ons by South Gate kamp opgeslaan omdat ons nie by Third Bridge plek kon kry nie.  Ons was aangenaam verras met die groter kamparea, ons lekker eenkant staanplek, nuwe ablusieblokke asook die heelwat nuwe paaie in die omgewing.  Die hoë watervlak het gehelp dat daar meer drinkplekke was vir die diere en dit op sigself het goeie fotografiegeleenthede gebied.

Na South Gate is ons via Third Bridge Xakanaxa toe waar ons vyf nagte gestaan het teen die water op kampplek nr 2.  Die lodges het hul ingange verander sodat al die game viewers by die kampplek verby moet ry met gaste en dit ontneem mens van heelwat privaatheid en maak ook baie stof.  Die personeel stap ook heeltyd heen en weer verby die kampplek om by die vliegveld 'n selfoonsein te kry vir bel.  So, dit was waarskynlik ons laaste kamp by Xakanaxa.  Die area bly egter baie mooi met baie wild in die omgewing.

Daarna het ons vir vyf nagte by Savuti kamp opgeslaan.  Dis nadat ons gemaklik oor die sand ridge soontoe kon ry sonder enige voorval. Savuti was baie droog met slegs water in die kanaal. Die kamp self het ook meer besig geraak met 'n generator wat semi-permanent by die ablusieblok loop.  Dit maak die keuse van jou kampplek baie belangrik en ons het gesien nr 8 blyk die beste kampplek met die minste omliggende lawaai te wees.

Ons is bo by Chobe via Kasane uit die park en het by Nata lodge oornag voor ons die volgende oggend die lang pad huis toe geneem het.  Hier is 'n paar van ons foto's.