Sentraal Kalahari Hwange 2011

Ons is op 15 April 2011 saam met Ada, Hennie, Annemarie en Conrad Sentraal-Kalahari toe en daarvandaan Hwange toe in Zimbabwe.

Soos oudergewoonte het die trip op Anaboom begin waar ons die eerste aand lekker saamgekuier het.  Die volgende oggend is ons, nie baie vroeg nie, deur Stockpoort grenspos, want ons moes net ry tot by Khama Rhino lodge waar ons oornag het.  Toe in by Sentraal-Kalahari waar ons 5 nagte in Korikamp en 2 nagte in Passarge spandeer het, daarna een nag by Nata voor ons noord is Hwange toe. Ons het baie wolkbedekking in Sentraal ervaar, wat saam met sonlig wat dikwels deur die wolke gebreek het, goeie geleentheid vir dramatiese landskapfoto's gebied het.

In Hwange het ons die eerste nag by Robin's camp oornag en die 2de nag by Mandavudam waar ons 'n moeder van 'n storm op die lyf geloop het.  Ons het later die waens en tente aan hul lot oorgelaat en in ons motors skuiling gesoek teen die vreeslike swaar weer.  Net Hennie het deur dit alles geslaap! Daarna kon ons lekker rustig sit en braai, terwyl 'n brullende leeumannetjie om die kamp gesingel het.  Behalwe olifante, was wild in Hwange maar skaars.  Die laaste drie nagte was by Jambile kampplek waarna ons die pad terug huis toe via Woodlands 4x4 stop over aangepak het.