Etosha Sep 2017

Hits: 50

Ons is van 8 - 29 September 2017 Namibië toe met die Discovery en die Echo wa.  Gretha en Pieter de Weerdt het saam met ons gegaan in hulle Bushlapa Boskriek wat hulle sleep met 'n Toyota bakkie. 

Ons is by Skilpadsnek sonder probleme oor die grenspos en slaap toe oudergewoonte in die huisiesgoed by Kalahari Rest Lodge, so 25 km anderkant Kang.  Dit was skoon en netjies soos altyd, n gerieflike oornagplek, maar die plek word beslis nie goed in stand gehou nie.  Die watervloei in die bad en wasbakke was swak en die meeste ligte sonder gloeilampe.  Mens sal volgende keer eerder moet kamp.  Hul besonderhede 00267 72 386 548 This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  Dit was 'n gemaklike rit van 697 km wat ons moes aflê soontoe.

Die volgende dag was weer 'n lang stoot van 928 km deur die grenspos by Buitepos op die Namibiëgrens tot in Otjiwarongo waar ons by Cest si Bon Hotel oornag het in van hulle gerieflike chalets met veilige parkering.  Mens kan hulle kontak by 00264 67 301 240 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  Ons is na die restaurant buite die hotel wat binne loopafstand beskikbaar is en het lekker daar geëet.

Ons het die volgende oggend vroeg vertrek en was voor die middag in Etosha waar ons die eerste vyf nagte by Olifantsruskamp spandeer het.  Dis 'n kamp sonder lekker skaduwee en die meeste kampplekke is piepklein.  So, mens kry 'n gevoel almal staan opmekaar.  Daar is wel 'n paar groot staanplekke en jy kan jouself gelukkig ag as jy so ene sou kon kry - weet nie wie jy moet ken nie!  Ongelukkig speel geld oral 'n groot rol en word toeroperateurs toegelaat om met groepe van tot 20 "campers" in die groot parkeerarea by ontvangs te parkeer en daar uit te span vir die nag.  Vergeet enige privaatheid, stilte of die gebruik van die ablusieblokke.  Die kamp kan eenvoudig nie soveel mense hanteer nie, die pragtige uitkykpunt by die watergat ten spyt.  Hoekom vasbyt vir 5 nagte?  Die watergat so 16 km van die kamp af is ongelooflik!  Dit bied soggens en saans oneindige aktiwiteit van diere!

Daarna is ons vir 4 nagte elk Okaukuejo, Halali en Namutoni toe wat elk sy eie bekoring het, maar hierdie keer nie naastenby soveel fotogeleenthede gebied het soos Olifantsrus nie.