Krugerwildtuin Mrt 2017

Op 28 Feb 2017 oornag ons aan huis van ons reisgenote, Cobus en Ellen Louw in Nelspruit en vertrek rustig die volgende dag na ons eerste kamp, Maroela waar die plaaslike opsigter die kamp werklik netjies hou.  In die ou dae was hierdie 'n lekker stil en rustige klein kampie met min besoekers, maar dit het intussen baie besiger geword met karavane wat dstv-skottels en lugversorgers saamry.  Maart is lekker warm en snags het die lugversorgers van die onderskeie karavane om ons aanhoudend aan- en afgesit, so ons sal in die toekoms sulke propvol kleiner kampe probeer vermy. 

Die wildtuin was nietemin 'n lushof soos wat mens op al die foto's kan sien en wat wonderlik was na die vreeslike droogte!  Ons het wel leeus gesien, maar die cheetah en luiperd het nooit gesig kom wys nie en sou ook moeilik wees om in die lang gras te sien.

Na 5 nagte by Maroela spandeer ons 5 nagte by Satara.  Die die Satara-omgewing het baie te bied, soos gewoonlik, maar so jammer om te sien hoe die kamp, wat baie uitgebrei is, verwaarloos is.  Droogte en gebrek aan water is een ding, onversorg is 'n heeltemal ander ding.

Die laaste vyf nagte was ons by Punda Maria en van die paaie noord, rigting Pafuri was gesluit vir die publiek, glo agv oorstromings van die reën.  Dit is ook duidelik dat by kampe na aan die hekke die plaaslike bevolking, wat in die wildtuin werk, daagliks met hul motors na hul werkplek in- en uit ry en dit plaas druk op die paaie en op rustige wildkykgeleenthede soggens vroeg en saans teen sononder.

Ten spyte van die paar irritasies en die duidelike agteruitgang tov die algemene netheid van tuine en ablusies, bly die Kruger Wildtuin steeds een van daardie magiese soort plekke om te besoek, nie net vir die wildkykgeleenthede nie, maar vanweë die heerlike atmosfeer saans in die kamp wanneer goeie vriende saam vuur- en kosbeurte maak en die samesyn oor 'n goeie wyntjie geniet!