Ululapa Aug 2017

Vanaf 9 - 13 Aug 2017 het ons weer 'n paar dae by Ululapa in die 65 000 hektaar Sabi Sands Wildreservaat spandeer saam met Conrad en Annemarie Wiehahn, Johan en Christa Hattingh en Anton en Madelein Bekker.  Behalwe dat Ululapa normaalweg 'n fees is vir fotograwe, was dit hierdie keer 'n luiperdfees!

Sabi Sands is reg langs die Kruger Wildtuin en omdat daar nie heinings is nie, beweeg wild vrylik in die hele gebied.  Jy is gewaarborg om die groot vyf gedurende jou besoek te sien, indien nie elke dag nie!  Ons het ook luiperds op elke wildrit gesien en afgeneem, dus twee keer per dag, en nie oor en oor dieselfde luiperd nie!

Ululapa bied vyf slaapkamers, slaap dus 10 mense, met 'n luukse leef- en braai area en is "self-catering".  Die kombuis en kamers word daagliks gediens, so geen skottelgoedwassery vir die vrouens nie!  Ons neem kosmaakbeurte en ons smul elke ete heerlik aan als wat opgedis word.  As almal in die groep fotograwe is, is 10 mense egter teveel vir die wildkykvoertuig, want dit beteken sommige fotograwe moet in die middel sit op die wildkykvoertuig en dis glad nie ideaal nie.  Ons groep was nog altyd 8 mense en dit werk op 'n manier op die wildkykvoertuig omdat een persoon ook voor langs die gids kan sit.

Die een spesifieke gids, June, verdien om geprys te word.  Hy het 'n innemende geaardheid en dis heerlik om saam met hom in die voertuig te wees vanweë sy kennis en bereidheid om dit te deel, sy bewustheid om aan sy gaste 'n fotogeleentheid te bied en dus hoe hy die voertuig moet parkeer en ook sy natuurlike spontaniteit.

Ons sal Ululapa beslis weer besoek!

Klik op die eerste "thumbnail" hieronder en dan op die pyltjie in die sirkel om 'n "slideshow" te laat loop as jy wil.  So nie, klik op jou eie tyd.